Johannes 1: 1-18

As God mens word, trek Hy nie net vir Hom vleis en bloed soos klere aan nie. God se Seun het mens geword. Dit is wat Johannes sê. Hierdie teksgedeelte (Joh 1: 1-18) sê vir ons hoe ver en wyd, en hoe hoog en diep die liefde van God vir mense strek. Al staan jy daaroor stomgeslaan, spreek dit boekdele oor God se welbehae in mense. Dit sê alles oor tot watter verbysterende uiterstes God sal gaan om aan mense sy liefde te bewys. Hy word mens om te sê: Ek, God, het mense lief met my hele hart, met my hele siel en met my hele verstand. Kom na My toe.

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien… Ons glo dat Jesus God is. Wat ons sien as ons na Jesus kyk, is God self. Jesus is God die Seun wat werklik mens geword het. Hy lýk nie net soos ’n mens nie. Die wolf in die Rooikappie-sprokie het Ouma se nagrok aangetrek en amper vir Rooikappie geflous om te dink dit is regtig haar ouma. Jesus is werklik God wat mense tot die dood toe liefhet. Hy kom nie ons lewens tot niet maak soos die wolf in die sprokie nie. Hy word gebore as mens om die Lam aan die kruis vir ons te word en ware lewe aan ons te skenk.

Geloof staan of val nie by wat jou sintuie jou wysmaak nie. Geloof kom van God af. Geloof maak jou soekend, bruikbaar, gehoorsaam.  Geloof is ’n voortdurende honger en dors na God. Al is dit nie altyd maklik om te glo nie, beteken dit nie dat ons dit skaam-skaam moet stilhou nie. Ons kan dit nie aanbied as net nog ’n moontlikheid tussen ’n warboel ander moontlikhede nie. Johannes sê die God wat niemand van ons nog gesien het nie, is nou aan ons bekend en is vir ons beskikbaar, in Jesus Christus, God die Seun. Dit is rede genoeg om luidkeels sy lof te besing! Ons ken nou vir God. Ons glo. En ons lewe saam met Hom in hierdie stukkende wêreld. Die wêreld word die plek waar ek en jy en God saambly, al is ons plek stukkend. As jy God glo dat hierdie die plek is waar Hy saam met jou wil bly, is dit ook hiér dat jy sal leer sê: Ek het God gesien. Ek het God gehoor. Ek het Hom skaars herken… maar: God is hier!

Gesang 335

Ds Jacques Pieterse, Laer Suidkus

af
af
Deel met behulp van
Copy link