Johannes 3: 11-17 (AFR2020)

Kersfees is groot. Omtrent die hele wêreld vier Kersfees, gelowiges en nie-gelowiges, want Kersfees het ’n wêreldse tradisie geword. Kersvader het belangriker as die hemelse Vader geword en Kersgeskenke belangriker as God se geskenk aan die wêreld, as die Kindjie wat gebore is.

Dus, val die klem met Kersfees vir ons op Kersvader of op ons hemelse Vader? Die interessante is, die Kersvadertradisie het juis weens die liefde van God ontstaan. Iewers tussen 270 en 280 nC is ’n man met die naam Nicolaas in ’n klein dorpie in Klein-Asië gebore. Sy ouers was vername en welgestelde mense, en hy was na hul dood ’n welgestelde man. Volgens oorlewering het hy sy rykdom gebruik om hom oor mense wat arm was, te ontferm. Seker die bekendste legende is dat hy ’n arm man met drie dogters telkens gehelp het om vir hul troues te betaal. Hy het met elke troue in die nag op die dak geklim en ’n sak geld deur die skoorsteen laat sak – die oorsprong van die tradisie van Kersvader of die heilige Nicolaas (Sinterklaas) wat met sy rooi kleed deur die skoorsteen kom om vir die kinders geskenkies te gee.

Blykbaar het die verhaal van Christus se geboorte en God se liefde vir die mensdom Nicolaas geïnspireer om sy weldade aan mense te bewys. Vandaar sy begeerte om iets van daardie liefde sigbaar te maak deur mense in nood se lewens beter te maak.

Natuurlik dra die tradisies van Sinterklaas en Kersvader, van die Kersboom en die Kersgeskenke, daartoe by om ons kindertjies te leer hoe spesiaal daardie dag is. Solank ons nooit vergeet nie om hulle te leer dat dit eintlik oor ons hemelse Vader gaan. Ons hemelse Vader se liefde vir ’n gebroke wêreld.

Daarom het Jesus die rede vir sy koms na die aarde in sy gesprek met Nikodemus so saamgevat: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (vers 16). Dankie, Here!

Dr Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap