Romeine 1: 17

Die debat oor of die mens gered word deur te glo of deur goeie werke is so oud dat ons amper nie eens kan onthou waar dit begin het nie. Ons weet egter wel dat Luther weggebreek het van die Roomse verstaan van verlossing deur veral van Romeine 1: 17 gebruik te maak: God spreek mense van hul sonde vry alleen op grond van die feit dat hulle glo. Eenvoudig, sal ons sê, maar is dit? Beteken dit dat geen werke nou meer nodig is nie? En wat dan van hulle wat so trots daarop is dat hulle die geloof het wat tot redding lei, dat dit eintlik niks anders as ’n goeie werk geword het nie?

Dat geloof ons red, behoort te lei tot nederigheid. Dit gee ons nie die reg om ander wat oordeel dat die doen van goeie werke vir hul geloofsuitlewing, saam met geloof, tog belangrik is, te veroordeel nie. Redding op grond van geloof beteken darem seker nie dat werke nie meer tel nie? Want hoe sê ons dankie vir verlossing? En hoe wys ons anders as deur die evangelie te gaan leef, dat ons glo?

Geloof kan so maklik ’n goeie werk op sy eie word. Geloof as gawe lei soms so maklik daartoe dat ons oordeel ons is beter as hulle wat nie glo nie, en dat ons soveel beter weet van goeie werke, en veral watter goeie werke die moeite werd is.

Geloof wat hooghartig maak, is ’n dooie geloof. Geloof wat nie sigbaar word in veral liefde vir ander nie, is ook ’n dooie geloof. Geloof sonder nederigheid is gevaarlik, so gevaarlik dat dit ’n goeie werk word. Dit is dit nie. Dit is ’n gawe uit God se hand, ’n gawe wat ons behoort te dring tot ’n dankbare lewe,

Prof Ernest van Eck, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link