Johannes 2: 1-12
Volgens die Evangelie van Johannes is hierdie gebeure die eerste wonderwerk van die Here Jesus Christus.
In hierdie tyd het ’n bruilof ongeveer ’n week geduur. Die gasheer moes deeglik voorsiening maak om te verseker dat daar genoeg van alles was. Tog lees ons dat die wyn opgeraak het. Daar was nie genoeg wyn nie en dit sou die gasheer in die verleentheid gestel het. Maria neem die vrymoedigheid om Jesus te vra om te help.
Wanneer ons oor hierdie gebeure lees, moet ons na die fynere detail oplet wat Johannes deel. Daar was ses klipkanne wat elkeen tussen 90 en 100 liter gehou het. Jesus het vir die kelners gesê om die ses kanne tot bo toe vol te maak. Dit beteken dat daar tussen 540 en 600 liter wyn gemaak is. Wanneer die seremoniemeester van hierdie wyn drink, sê hy ook dat dit wyn van goeie gehalte is, selfs beter as die eerste wyn wat aan die gaste voorgesit is.
Deur hierdie wonderwerk voorsien die Here in oorvloed. Die dissipels kon dit sien en kon glo. Johannes skryf hierdie gebeure neer sodat sy lesers en ook ons kan lees en glo dat die Here Jesus Christus voorsien in oorvloed.
So gebeur dit ook dikwels in ons eie lewens dat ons van die Here vra vir dit wat ons nodig het. Die Here gee ook vir ons meer as waarvoor ons kan vra. Ons kan vir baie in hierdie lewe vra. Maar die Here het reeds vir ons nie net hierdie aardse lewe gegee nie, maar deur geloof in die Here Jesus Christus ook die ewige lewe. Ons mag ook die Here vertrou en vra vir wat ons nodig het.
Gebed
Here, dankie dat U ook vir my oorvloedig voorsien. Dankie dat selfs wanneer dit voel asof ek te min het, ek mag weet dat my beker oorloop. Amen.
Ds Michael A Müller, Klerksdorp-Wilkoppies