Johannes 4: 1-28

Vandag se Skrifgedeelte speel af in Sigar in Samaria. Hier ontmoet ons ’n vrou wat water skep op die warmste tyd van die dag. Sy is waarskynlik nie welkom om saam met die ander vroue water vroeg in die môre te skep nie, omdat sy alreeds vyf keer geskei is.

Jesus nader hierdie vrou en vra vir water, en sy reageer ongeskik. Niemand wil met haar praat nie en sy ook nie met iemand anders nie, wat nog te sê met ’n Jood. Maar Jesus antwoord haar beleef. Nog meer, Hy bied haar iets baie meer werd aan as net gewone water. Die water van die lewe. Waters wat jou nooit dors laat nie en wat die ewige lewe gee.

Van hierdie water wil die vrou vir seker hê. Maar hier neem die verhaal ’n vreemde wending. Jesus vra die vrou om haar man te roep, terwyl Hy goed weet dat sy nie een het nie. Skielik is die vrou weer op die verdediging. Sy probeer die gesprek aflei na die geykte paaie. Dit is haar skande en sy wil nie daaroor praat nie. Maar die Here Jesus weet dat hierdie gif in haar hart sal keer dat sy die volle omvang van die lewende water kan ontvang. Dit maak nie meer saak of sy geskend of bevlek is nie, maar alleen of sy met ’n nederige gees die Here wil aanbid.

Die vrou wag ook vir ’n spesifieke tyd. ’n Tyd wanneer sy, ’n verwerpte vrou van Sigar, ook toegang sal hê tot God. Sy weet dat dit sal gebeur met die koms van die Messias. Wanneer Jesus dan aankondig dat dit Hy is vir wie sy wag, verander haar hele lewe. Sy hardloop terug dorp toe. Sy gaan vertel vir haar mede-dorpenaars, die mense wat sy altyd probeer vermy, van hierdie profeet. Nog meer, sy opper selfs haar skandelike verlede. Want nou is dit nie meer vir haar ’n skande nie. Sy het die waters van die lewe, wat opgesluit is in sy Woord, geproe. En sy weet dit beteken vergifnis!

Ds Willem Dreyer, Groot Marico

Share via
Copy link
Powered by Social Snap