Lukas 12: 8-12
Dit is menslik om te reageer wanneer ons lewe in gevaar is. Daarsonder kan ons nie leef nie. Baie keer is ons gefrustreerd en bekommerd oor hoe ons reageer wanneer ons in moeilike en uitdagende omstandighede kom. Ons verstaan dikwels nie ons reaksies nie, ook omdat ons nie gekonfronteer word met dieselfde gevare as ons voorouers nie. Wanneer ons voorouers ’n leeu in die natuur gesien het, moes hulle dadelik besluit of hulle moet veg, vlug of vries. Mense reageer immers op drie wyses op gevaar: deur te veg, te vlug of te vries.
In vandag se wêreld loop ons nie meer die spore van leeus raak nie, maar ons reaksies op bedreigende omstandighede, konfrontasies en gevare bly maar dieselfde. Ons bevind ons baie keer in omstandighede waar ons so hard veg dat dit ons uitput. Ons bevind ons baie keer voor bedreigings waar ons wegvlug en dit ons inhaal. Ons staan selfs voor die mees bedreigende omstandighede waar ons doodgewoon vries omdat ons nie seker is hoe om dit aan te pak nie.
Hierdie verleentheid in ons lewens maak dat ons dikwels teleurgesteld is oor ons reaksies. Dit is waarom Jesus vir ons vra om die Heilige Gees te vertrou. Ons bekommer ons oor hoe ons onsself sal verdedig en vergeet van die wonderbaarlike krag van die Heilige Gees. Jesus roep ons op om nie so deurmekaar of bekommerd te wees oor hoe of waarmee ons onsself gaan verdedig nie, of wat ons sal sê as ons gekonfronteer word nie, maar om eerder die Heilige Gees te vertrou dat Hy ons op daardie oomblik sal leer wat gesê moet word en hoe ons behoort te reageer. Die vraag wat ons onsself moet afvra, is: Wanneer laas het ons in moeilike omstandighede, bedreigings en konfrontasies onsself in die bekwame hande van die Heilige Gees geplaas?
Ds Juan de Beer, Parys
