Josua 3: 1-17
Na al die jare van Israel se omswerwinge deur die woestyn, staan hulle nou op die oewer van die Jordaanrivier om die beloofde land uiteindelik in besit te neem. Daar moes sekerlik in baie se gedagtes dieselfde prentjie afgespeel het as toe hulle op ’n keer voor die Rietsee gestaan het. In die loop van tyd het soveel dinge gebeur, en nou staan hulle weer voor water…
Op die oewer van die Jordaanrivier stap die priesters met die verbondsark eerste deur, en soos hul voetsole die water raak, het die water wat afgekom het van die rivier wat in vloed was, gaan staan. Die verbondsark is die simbool van God se teenwoordigheid. Die verbondsark is die eerste om deur die water te gaan, met die hele Israel wat volg. ’n Pragtige simbool: God lei hulle die beloofde land binne. God loop as’t ware voor.
Ons is nie veel anders nie as Israel van ouds, en soms swerf ons ook doelloos in die woestyn van ons bestaan rond – in sirkels. Soos ons goed weet, is ons lewenspad nie net mooi geplavei nie. Ook op jou lewenspad het jy al jou voet teen ’n klip gestamp, en weet jy dat die woestynsand van die lewe seer kan brand. Dalk het jy al soos Israel tot God gekla oor jou lot onder die felle son van die lewe. Dalk neem jy God kwalik en verlang jy terug na die vleispotte van Egipte.
Ons staan voor baie onbekende dinge in ons eie lewens. Kom ons gaan hierdie Jordaan deur met die wete dat God voor loop. Só word ons ook vandag opnuut herinner dat die God wat ons deur die Rietsee se verlede veilig en behoue tot hiér gebring het, dieselfde God is wat ons ook verder lei – die God wat jou nie alleen laat anderkant die walle van die Jordaanrivier en verder nie. Met dié wete kan ons die pad wat voorlê met vrymoedigheid en afwagting stap – want God loop voor. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam