1 Korintiërs 9: 16-23

Wat doen jy ter wille die evangelie? Het ons as gelowiges dalk opgehou om te getuig van ’n lewende verhouding met God?

Hoe kan ons meer na God toe groei, na mekaar toe, na diegene onder ons wat in nood, ellende en smart verkeer? Dit sal ’n kwade dag wees as ons dit nie meer doen nie. As die kerk sou ophou om lig te laat skyn in ’n donker wêreld, kan ons in wese maar die kerk se deure sluit. Die evangelie plaas op elkeen van ons ’n plig. Ons kan die boodskap van die kruis en die opstanding van ons Here Jesus Christus nie maar net glo, en dit daarna vir onsself hou nie. Die evangelieboodskap is die krag van God wat my laat glo dat Hy my uit genade gered het, sodat ek diensbaar vir Hom kan wees.

Geloof in God beteken ons het die verlossingsboodskap gehoor, ons wil daarvan gaan vertel, ons wil so leef dat die wêreld by ons iets kan sien van ’n onwrikbare geloof in God. Gaan lees gerus hierdie hoofstuk uit die Korintiërbrief ook verder. Daar praat Paulus onder andere van atlete wat aan ’n wedloop deelneem. Hierdie stryd of wedloop is nie ’n pretdraf nie, dit is ’n stryd om lewe en dood – die ewige lewe en ewige dood.

Kom ons dank die Here vir die feit dat Hy ons genadig is om ons deel te maak van sy kerk. Kom ons bid dat Hy ons bereid sal maak om waarlik kerk te gaan wees. Kom ons doen alles ter wille van die evangelie sodat ek en jy aan die vrug daarvan deel kan hê.

Ds Jasper van der Westhuizen, Randfontein Midpark/Westonaria

af
af
Deel met behulp van
Copy link