Matteus 5: 11-12; 2 Tessalonisense 1: 1-11

Soms bestaan die lewe uit meer terugslae as oorwinnings. Soms voel alles agterstevoor en onderstebo. Ons wonder of daar enige sin daarin is om die hele tyd te stoei net om te oorleef. Die feit dat ons onsself Christene noem, vrywaar ons nie van teëspoed en seer nie. Hoekom sal ons nog die Goeie Nuus, die evangelie, glo? Die lesers van die brief aan die Tessalonisense het in die tweede eeu geleef en net soos ons geworstel met geloofsvrae. Omstandighede was moeilik. Waar is God as ek seerkry?

Die skrywer van hierdie brief probeer nie om die moeilike vraag te antwoord nie. Hy verdedig God nie met slimpraatjies nie. Hy probeer nie antwoorde gee op al die hoekoms en waaroms nie. Sy raad is eenvoudig: Bly getrou aan jul roeping. Bid dat God julle waardig sal maak vir jul roeping. Bly getrou aan jul roeping deur vas te hou aan die krag van die liefde. Waar mense vir mekaar omgee, word die lewe draaglik en kry die lewe sin. Om jou roeping waardig te wees, is om geloof om te sit in dade van vriendskap en liefde.

In die laaste saligspreking lê daar ’n opdrag aan die kerk verskuil. Jesus praat in die tweedepersoon-meervoud: julle. Die kerk word direk aangespreek om die boodskap van die saligsprekinge toe te eien en uit te leef. Die julle is ons – ek en jy. Dis ek en jy wat ’n geloofsgemeenskap moet skep waar mense tuis voel. Dis ek en jy wat ’n tuiste moet skep vir die stukkendes, die hongeres en die soekendes, wat hierdie anderste waardes in ons wêreld moet uitleef. Die waardes van die koninkryk eis dat ons uitreik en aanraak. Dit eis dat ons bereid sal wees om onsself bloot te stel en weerloos te wees ter wille van die liefde.

Gelukkig is hulle wat in hierdie wêreld, met sy pyn, verlies, hardvogtigheid, onreg, harteloosheid, geweld en vervolging, die seën en teenwoordigheid van God kan beleef. Gelukkig is hulle wat ten spyte van hul broosheid, ook hul roeping kan uitleef.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

af
af
Deel met behulp van
Copy link