Jesaja 18: 3-5

Die beeld van die oes word dikwels in die Bybel gebruik om die mens se lewensreis met God te beskryf. Hier in Jesaja gaan dit oor ’n druiweoes. Die druiwe is ryp in die tyd van die Loofhuttefees, die fees van tuiskoms. Op die lang reis gebeur goeie en slegte dinge. Dan kom ’n mens tuis by God, waar daar rus is, ’n perfekte balans.

Eers word die wingerd gesnoei om die ou, droë lote weg te sny en groei te bevorder. Later is daar ’n tweede snoeityd. Die lote wat gegroei het, word weggesnoei sodat die druiwe kan son kry en ryp en soet word. Snoei is pynlik, maar die uitkoms is goed: groei en vrugte. Maar wanneer ’n ramp die wingerd tref, is daar nie goeie gevolge nie. Die boer moet toekyk hoe die oes vergaan. 

Jesaja moet toekyk hoe ’n ramp op sy land afstuur. Die vyand kom, daar is geen uitkomkans nie. Hy droom dat ’n sterk volk tot hul redding sal kom, maar dit is net ’n desperate fantasie. In werklikheid is hulle heeltemal weerloos. Wat doen God?

God kyk roerloos toe, soos versengende hitte op die middaguur. Ondraaglik is die hitte. Aan die een kant is hitte nodig om die druiwe te laat ryp en soet word, maar aan die ander kant is die druiwe ook broos. As dit verskroei, is die oes daarmee heen. God se stilte is nie net soos versengende hitte nie, dit is ook soos ’n miswolk. Daar is balans.  

Die vyand intimideer met wapperende vaandels en groot lawaai, maar God wat roerloos toekyk, is veel groter. Selfs die magtigstes moet dit erken. Ook al is God se volk so broos, God sorg vir ’n perfekte balans tussen hitte en miswolk.

Gelowiges verwag nie altyd voorspoed nie. Ons verwag egte lewe. Wanneer dit moeilik gaan, hoef ons nie te vlug in drome en fantasieë van aardse redders wat moet kom help nie. Ons kan ons broosheid en weerloosheid rustig aan God toevertrou. Die balans sal perfek wees, die vrugte soet en die oes goed.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link