Efesiërs 5: 6-20
Voorheen is die mens se lewe beheer deur die duisternis en het die mens gelewe in die duisternis. Die duisternis was verantwoordelik vir die mens se aksies. Die werke van die duisternis is die onvrugbare werke. Daardie werke wat geen voordeel inhou nie, soos ongehoorsaamheid aan God of dade wat nie vir die Here aanneemlik is nie. Dit waarmee ons ons nie moet ophou nie, waaroor ons selfs nie eens geselsies moet aanknoop nie, en wat vir seker nie eens in die donker uitgevoer moet word nie.
Dit het tot ’n einde gekom en die duisternis is nou in die verlede. Christus het die duisternis kom breek en die lig vir ons gegee. Die mens het beweeg vanaf die duisternis na lewe in die lig saam met die Here. Christene het reeds hierdie skuif gemaak en leef as kinders van die lig.
Tog, in die wêreld is die duisternis altyd daar en probeer dit om ons terug te trek in ongehoorsaamheid in. Ons weet nou wat daardie duistere dinge is en waarvoor ons moet uitkyk. Ons is dankbaar dat Christus reeds ons lewe kom verlig het, en dat ons nou kan leef in daardie lewe en daardie lig. Daarom getuig ons dankbare lewe van die Heilige Gees wat werk, wat ons waarsku teen die duisternis en vir ons leiding gee om die dade van die lig uit te leef. Ons is dankbaar dat ons dit nie self hoef te doen nie en dat die Heilige Gees ons daarmee help. Die Heilige Gees help ons om gehoorsaam te wees, om verstandig te wees en om dit wat aanneemlik is vir die Here, te laat deurskyn. Laat goedheid, geregtigheid en waarheid skyn in die wêreld. Die Heilige Gees is teenwoordig in die wêreld, en daar om ons te help sodat ons die lig kan wees en sodat die lig deur ons kan skyn.
Mag u lig, Heer, deur óns skyn.
(Gesang 488)
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton
