Matteus 13: 24-30
God se koninkryk werk met die beginsel van saai en oes. As jy ’n oes van genesing wil hê, moet jy die saad van genesing plant. Voor ’n boer sy saad in die lande saai, berei hy eers die land voor en haal hy al die bossies en dissels uit. Al die onkruid word uitgehaal voor die saad in die grond gesit word. So moet jy ook jou geestelike “land” voorberei vir die saaityd. Vra die Heilige Gees of daar enige toksiese gedagtes is wat jy koester teenoor jouself of iemand anders. Vra dan vergifnis daarvoor en vergewe waar dit nodig is. Op hierdie wyse berei jy jou geestelike liggaam voor vir die saad van geloof.
As die boer nie die land skoonmaak nie, sal daar allerhande onkruid saam met die mielies opkom. Jy moet eers jou geestelike land skoonmaak deur ontslae te raak van ongewenste gedagtes, jou verlede en giftige woorde wat die liggaam onsuiwer maak. Die goeie saad kan nie groei saam met die bossies en dissels nie. Nie net moet die boer die saailand skoonmaak nie, hy moet ook sorg dat die grond die regte voedingstowwe in het om ’n goeie oes te verseker. Die regte voedingstowwe maak die wortels van die plant sterk. So ook maak dit die selle van die plant oop vir beter wateropname.
Maak seker jou saailand is skoon, sodat wanneer die saad val, dit op goeie grond val. Sodat wanneer die voedingstowwe – die Woord van God – op die regte tyd kom, dit opgeneem word en daar uitsonderlike groei plaasvind.
Bly aanhoudend gefokus op God se Woord vir jou lewe, sodat jy genesing kan oes. Neem God se voorskrif vir jou lewe: Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees (Fil 4: 8-9, AFR33/53). Voed jou liggaam met alles wat goed en opbouend is.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand
