Jesaja 66: 5-11

Die gawe van die Gees wat ons vandag oordink, is ontsag en sy gepaardgaande deug, hoop.

Die letterlike vertaling van die sesde gawe van die Gees is die “Gees van die vrees van die Here”. Hierdie vrees van die Here is nie die vrees wat jy het vir ’n oppergesag wat jou straf nie. Dit is eerder erkenning van God se grootsheid en almag. Daarom dat die 2020-vertaling dit met “ontsag” vertaal het.

Jesaja 66 spreek die mense aan wat ontsag het vir die Here en sy Woord. Die Israeliete waaraan Jesaja 66 gerig is, was van oral af beleër deur allerlei moeilikhede. Hulle is as arbeiders weggevoer na Babilon toe. Hul stad Jerusalem is verwoes. En nog erger, die tempel is vernietig. Daar was “broers” wat die vrees van die Here verloor het. Want dit is moeilik om steeds die Here te eer as dit voel of alles verkeerd loop, of soos Psalm 137 sê: Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?

Daarom is dit belangrik om te besef dat die Christelike hoop nie ’n vorm van wensdenkery is nie. Dit word gebou op die beloftes van die Here. Daarom dat die boek Jesaja afgesluit word met ’n reeks hoopvolle orakels om dié wat steeds ontsag het vir die Here, te inspireer. En die sentrale metafoor wat hy kies, is ’n vrou wat geboorte skenk. Net soos wat ’n vrou wat deur die geboortepyne gaan noodwendig geboorte skenk, net so sal die Here Jerusalem weer in haar glorie herstel na al die pyn en ellende wat die volk moes deurgaan.

Dit is soms moeilik om ons ontsag vir die Here te behou. Ons voel baie keer dat ons geen beheer oor ons lewens het nie. Maar as ons die beloftes van die Here onthou – dat Hy ons uitkoms sal gee, dat ons by Hom veilig sal wees soos ’n baba wat geborsvoed word (vers 11) – dan kan ons die hoop behou. Want ons hoop is nie gebou op menslike vermoëns nie, maar op God en sy almag. ’n Almag wat by ons niks anders nie as ontsag en eerbied skep.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico

Share via
Copy link
Powered by Social Snap