1 Korintiërs 2
Die boodskap van gister vervolg hier. Paulus dring daarop aan dat hy nie met verhewe woorde of geleerdheid die evangelie verkondig nie, Nee, hy sê: Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde (vers 2, AFR2020). Net dit!
Paulus begin by die brutaliteit van die kruis. Die evangelie gaan oor God wat sy Seun gestuur het om in ’n stukkende wêreld in te kom, wat toegelaat het dat sy liggaam gebreek word ter wille van ons heling. Paulus sê dat hy juis in sy swakheid na hulle toe kom, sodat hul geloof nie op mense se wysheid of geleerdheid berus nie, maar op God se krag. Hy verwys weer na God se wysheid wat anders is as die wêreld se wysheid. God se wysheid is deur ’n misterie omhul. Ons kan dit dus nie verstaan nie. Tóg is dit presies wat God se almag beklemtoon, die feit dat ons God en sy werke nie met ons gedagtes, geleerdheid of wysheid kan omsluit nie. Omdat God sy Gees aan ons gegee het, kan ons van hierdie evangelie getuig, deur die Gees, nie deur menslike wysheid nie.
In terme van menslike denke is die kruis barbaars en brutaal, dit is nie hoe ’n mens graag na God wil kyk nie. In terme van menslike denke is die hele opstandingsgebeure vergesog en ondenkbaar. Ons sien in 1 Korintiërs 15 hoe Paulus ook hierdie moeilike begrip aan die gemeente verduidelik. In hierdie hoofstuk verwys hy weer daarna as ’n misterie. Die evangelie van Christus as die gekruisigde en opgestane Heer is wel ondenkbaar vir die mens, maar dit is alles deel van God se misterie – sy Gans-andersheid. Dit is bokant ons begrip, verstand! Ons begrensde gedagtes kan nie God se onbegrensdheid begryp nie. Tóg sê Paulus dat ons hierdie misterie kan verkondig, deur God se Gees wat aan ons die regte woorde leer.
U gee aan ons u Gees as pand;
Hy help ons, lei ons aan die hand.
Hy maak vir ons die Skrifte oop,
laat groei in ons geloof en hoop.
(Gesang 448: 4)
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria
