Efesiërs 1: 15-23

Die brief aan die Efesiërs is nie geskryf om enige dwaalleer of verkeerde praktyke reg te stel, of selfs om op spesifieke vrae van die gemeente te antwoord nie. Dit is eerder ’n brief van bemoediging. Die outeur skryf die brief om die gelowiges in hul geloof te versterk deur te wys op die eenheid van die kerk en hoe hulle dié eenheid in die praktyk van elke dag se lewe kan uitleef. In ons Skrifgedeelte sê die outeur waarvoor hy vir die gelowiges in Efese bid.

Eerstens bid hy vir wysheid vir die gelowiges en dat God Hom so aan hulle sal openbaar dat hulle God werklik sal kan ken. Om ’n lewendige en intieme verhouding met iemand te hê, moet jy die ander persoon ken. Dieselfde is waar van ons verhouding met God. Hoe beter ons God ken, hoe lewendiger, ryker en voller is ons verhouding met God.

Tweedens bid hy dat die Efesiërs se geestesoë sal verhelder (vers 18). Letterlik staan daar die oë van hul harte moet verhelder word. Hoe pragtig is hierdie beeld! Die oë van hul harte moet oopgaan sodat hulle drie geestelike dinge kan raaksien en verstaan:

Die hoop wat God se roeping vir hulle inhou.

Die rykdom wat daar is in die heerlike erfenis wat God vir die gelowiges bestem het.

Die geweldige grootheid van God se krag wat Hy uitoefen in gelowiges.

Sy gebed is een wat ons vandag nog kan bid. Ons kan dit bid vir mekaar, vir ons gemeentes en vir ons land. So kan ons dan saam met hom bely: Christus wat uit die dood opgewek is en in die hemel aan die regterhand van God sit, is verhewe bo elke mag en gesag, bo elke heerskappy, nie net nou nie, maar vir altyd. Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as Hoof van die kerk.

Ds Erika Ferreira, Bellville

af
af
Deel met behulp van
Copy link