Filippense 4: 4-7

Na Paulus die gemeente in verse 1-3 vermaan het, roep hy hulle nou op tot vreugde en vrede. Maar hoekom moet daar by hulle vreugde en vrede wees? Die antwoord lees ons in vers 5b: Die Here is naby. Hierdie feit, dat die Here naby is, is dan ook die middelpunt van hierdie teks. Sonder die feit dat die Here naby is, hang die vreugde en vrede in die lug. Maar wat bedoel hy met die Here is naby? Dit verwys na die Here wat gekom het en weer gaan kom. Sy koms en wederkoms het ’n beslissende invloed op ons totale menswees. Dit beïnvloed as’t ware die gesindheid van ons hart en die glimlag op jou gesig.

Hierdie vreugde, hierdie glimlag, is egter ’n opdrag wat gegrond is in die nabyheid van die Here. Hier in die Adventtyd is ons weer opnuut bewus van die nabyheid van die Here. Van sy koms as mens om aan die kruis ons vry te koop en te verlos. So, wat vra die teks van ons wat hierdie vreugde, hierdie vrede, beleef? Ons lees dat ons inskiklik teenoor alle mense moet wees. Dat ons oor niks besorg moet wees nie, dat ons in alles ons begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend moet maak.

Maar is dit nie alles maar net ’n mooi droom nie? Ons het ook gelees dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor ons harte en gedagtes die wag sal hou in Christus Jesus.  Let daarop dat die werkwoord wat met “wag hou” vertaal word, nie op ’n wens dui nie, maar op ’n vaste waarheid. Hierdie vreugde, hierdie vrede, hierdie nuwe manier van lewe, is moontlik omdat Jesus Christus dit vas en seker moontlik maak.

Jy kan hierdie vreugde ervaar, hierdie manier lewe, want die Here maak dit moontlik. Mag hierdie wete jou help om anders te dink, anders te lewe, in hierdie Adventtyd anders teenoor mense op te tree. Ja, wees bly, want die Here is naby.

Ds Willem Sauer, Waterberg

Share via
Copy link
Powered by Social Snap