Openbaring 6: 1-8 en 19: 11-13

Die boek Openbaring is vol skrikwekkende beelde soos hierdie vier ruiters (in algemene gesprek bekend as onderskeidelik pes, oorlog, hongersnood en die dood). Indien dit toekomstige gebeure voorspel wat tekens sal wees dat die einde van die wêreld aangebreek het, is die toekoms sekerlik iets om te vrees vir diegene wat in die tye van daardie tekens sal leef.

’n Mens hoor egter oor die millennia hoe elke generasie hierdie tekens in hul eie tyd waarneem en dan oortuig is van die onafwendbare einde. Trouens, Johannes noem juis hierdie ruiters en ander tekens omdat hulle wel in sy tyd ook chaos, vrees en hopeloosheid onder gelowiges saai. Elke generasie herken die ruiters omdat hulle in elke generasie aan die ry is. Pes, oorlog, hongersnood, die dood en ander vorme van lyding is inherent deel van die bestaan van die menslike samelewing in ’n natuurlike wêreld wat aan die verbygaan is. Tyd het begin eindig die oomblik toe dit geskape is. Die tekens dat dit begin eindig (soos die vier ruiters), is dus nog altyd daar.

Daar is egter ook die beeld van ’n vyfde ruiter in Openbaring. Magtiger as die ander vier, en ewig. Jesus genees mense, gee hulle hul daaglikse brood, verkondig vrede, vergifnis en nie-gewelddadigheid, en wek dooies op. Amper elke verhaal wat ons van Jesus se aardse lewe het, is ’n verhaal waarin Hy een van hierdie ander vier ruiters van sy perdjie afhaal. In sy opstanding reken Hy met die vreesaanjaendste van die vier af.

Jesus leer sy volgelinge om dieselfde te doen, aangesien daardie ruiters altyd weer hul perdjies opsaal onder mense. Deur Christus is daar ook vir ons met die dood afgereken. Daarom kan ons hierdie blywende tekens van verganklikheid met hoop en moed konfronteer waar ons hulle ook al teëkom. So eindig ’n verganklike wêreld van boosheid in elke keuse wat ons maak deur die Ewige se toetrede tot die verganklike. So breek die ewige koninkryk van God waarop ons hoop, nou reeds aan.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link