Psalm 103

Kookolie word nie vanself in die koskas meer nie, maar die weduwee s’n word ook nie minder nie. Ysterbyle dryf ook nie, maar toe ’n lem loskom en in die Jordaanrivier val, het Elisa dit soos ’n kurkprop laat dryf. Ewe min kry mense dit reg om op water te loop, of om met ’n paar broodjies en vissies die hele wêreld kos te gee, nè?

Maar dis hoe God se liefde die wêreld maak werk: meestal doodge-woon, en as dit moet, bonatuurlik. Goed wat in die wêreld gebeur, maak my kwaad: Hoekom maak God só en nie sus nie? Dan begin ek glo God het my advies nodig, en ek maak wette wat seker maak als werk soos dit hoort. Ek vergeet: God en sy wêreld werk met genade. Genade dwing jy nie met ’n wet af nie. Jy kry ook nie genade gekeer deur dikbek te kla God moet Hom hou by die reëls van sy eie skepping nie. 

Die kanse is minder as nul dat ek vir God gaan kan voorsê oor met wie Hy maar genadig mag wees, en wie nie. Jy hou vir God nie soos ’n gehoorsame troeteldier aan nie. Hoe skryf ’n mens genade in ’n wet in? Hoe skryf ’n mens ’n wet sonder om genade weg te skryf? Jy kan nie. Maar dit keer nie dat ons probeer nie, met die beste bedoelings, natuurlik! Van God se genade bly dan niks oor nie.

In God se wêreld het genade die laaste sê, en is uitsonderings die hartklop van die werklikheid. Niks is noodwendig nie. Byle dryf, en almal se magies is vol. Kyk mooi: Psalm 103 sê dat genade veroorsaak dat niks meer werk soos dit moet nie; alles werk soos net genade kan.

In so ’n wêreld wat jy nie met ’n wet kan vasvat nie, bid jy dat God se wil geskied: Laat genade die deurslag gee, en ek sal kan leef. 

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

 

af
af
Copy link