1 Petrus 2
Vir Petrus, wat hierdie brief skryf in ’n tyd waarin Christene vervolg en verwerp is deur die samelewing, gaan alles oor identiteit. As gelowiges weet wie hulle is, waar hul herkoms is, waarin hulle gegrondves is en waarheen hulle op pad is, sal geen mens of mag of omstandigheid hulle onderkry nie. Petrus vind die basis van gelowiges se bestaan en identiteit in Christus se opstanding, soos 1 Petrus 1: 3 reeds getuig: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop…
In 1 Petrus 2 gebruik die skrywer bepaalde metafore om ons bestaan en identiteit as Christene uit te beeld. Deur middel van hierdie metafore word ons aangemoedig om tot ’n nuwe selfbesef en visie te kom oor ons menswees en ons kerkwees. Die eerste beeld wat Petrus gebruik, is dié van ’n gebou waarin Christus die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou is. Eers wanneer jy kies om jou lewe op die Lewende Steen te bou, word jy self as lewende steen opgebou om deel te vorm van God se geestelike huis. Die tweede groep metafore is eretitels wat in die Ou Testament vir Israel gebruik is. Petrus beskryf gelowiges as ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie wat aan God behoort. Dit gaan oor God se genadehandelinge met sy kinders. As geloofsgemeenskap is ons afgesonder vir God, geroep tot sy diens, in lewe en sterwe behoort ons aan God.
Tot vandag toe wil Petrus se woorde ons vermaan om toegewyde Christene te wees, maar ons tog ook verseker dat ons behoort aan God. In hierdie deurmekaar wêreld, waar almal op soek is na betekenis, na ’n sin van identiteit, nooi Petrus ons uit: Kom na die lewende steen… In hierdie deurmekaar wêreld, waar die belangrikheid van geloof en ’n verhouding met God misken word, roep Petrus ons op: Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom