Johannes 20: 26-31

Ons probeer ons lewe lank om onafhanklik te wees, daarom studeer ons en bekwaam ons onself vir ’n beroep. Ons probeer om volgens die samelewing se reëls te leef. Ons probeer selfstandige besluite neem, en verantwoordelik ons toekoms bepaal. Sukses word daarby vir baie mense gemeet aan fisiese en finansiële onafhanklikheid. Ons probeer daarom om ons gesondheid en welvaart self te beheer.

Boonop moet ons onsself onderwerp aan talle reëls en regulasies, soos verkeerswette en landswette, sodat ons nie mekaar se vryhede bedreig nie. Konings, regeerders, presidente en onsself breek telkens die vertroue van mense, en gee ander selfs meer rede om onafhanklik te wil wees.

Maar om onafhanklik te lewe, is nie wat die evangelie vir ons in die oog het nie. Die Woord van God leer ons dat ons van ons Skepper, Verlosser en Here afhanklik is. Ons kan nie sonder Christus met die Vader versoen word nie. Ons kan nie self die ewige lewe verwerf nie. As gelowiges moet ons besef en erken dat ons nie in beheer van ons eie lewens is nie. Die Here is in beheer van ons lewens.

Daarom is die belydenis van Tomas so kosbaar. Tomas bely dat die opgestane Christus sy persoonlike Here en God is. Vir Tomas is die Here nie net ’n veraf God nie. Tomas erken dat die Christus hier en nou sy Here en God is. Dit beteken dat wat ook al gebeur, sy lewe geborge is.

Dit behoort elke gelowige ook te erken en te beleef. Natuurlik moet ons verantwoordelikheid neem vir ons lewens en vir mekaar, en probeer om nie vir ander ’n las te wees nie, maar nie so dat ons onafhanklik van God probeer leef nie. Wie Christus as Here en God bely, vind tevredenheid in Hom, nie in omstandighede nie.

Gebed

Here, help my om met vrymoedigheid te besef dat ek afhanklik van U is. Dankie dat U my Koning is. Amen.

Ds Michael Müller, Klerksdorp-Wilkoppies

af
af
Deel met behulp van
Copy link