Psalm 128

Hierdie pelgrimslied was waarskynlik aanvanklik ’n wysheidspsalm. Dit verduidelik hoe die verhouding tussen God en Ou-Testamentiese gelowiges gefunksioneer het. Later is ’n priesterlike seën bygevoeg, en ’n antwoord daarop. So beskou, is Psalm 128 in sy huidige vorm heel moontlik ’n wegsendingsliturgie. Pelgrims is gereed om die Jerusalemse heiligdom te verlaat op pad huis toe ná een van die groot godsdienstige feeste. Hulle sing vir oulaas ’n lied wat hul verhouding met God opsom en hulle herinner aan hul verantwoordelikheid. Die priester seën hulle met die belofte dat God sy deel van die verbond gestand sal doen mits hulle getrou bly. Die pelgrims bevestig die versugting dat Israel wel getrou aan God sal leef van geslag tot geslag, sodat daar vir Israel blywende vrede sal wees.

Die lied herinner pelgrims daaraan dat Israel se basiese behoeftes, naamlik aan voedselsekerheid, militêre veiligheid en versorging in bejaardheid, afhanklik is van Israel se getroue diens aan God. God sal hulle dan beloon en seën met goeie oeste en groot getalle seuns om as soldate te dien en om eendag hul bejaarde ouers te versorg. Die boodskap is: God sal nie in gebreke bly om Israel te beloon nie. God sal by niemand in die skuld wees nie! God sál oorvloedig seën. Die teendeel word veronderstel: Ontrou van Israel sal gestraf word met die wegneem van hierdie sekuriteite, en ellende sal volg.

So werk die ou verbond. Só werk die evangelie nie. Die Ou Testament bevestig herhaaldelik: Israel misluk om God betroubaar te dien en verduur telkens straf. Israel wys: Geen mens kan God betroubaar dien nie. Almal skiet tekort. Almal is by God in die skuld. Die evangelie is dat Christus, die volkome Getroue, al die skuld vereffen het. Hy is God se grootste seën. Christus waarborg God se liefde, selfs ten spyte van ons ontrou. Dit is die evangelie. Gelowiges dien God daarom dankbaar, en dank God ook vir ander seëninge. Swaarkry is nie straf nie, want die straf is afgehandel buite Jerusalem, op Golgota. Leef as geseënde en wees vir ander tot seën!

Gesang 182: 1-3

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link