Lukas 8: 4-8
Ons ore, anders as ons oë, het nie lede wat hulle kan bedek nie en is daarom altyd veronderstel om oop te wees. Tog hou ons hulle dikwels oop vir die geraas van die lewe, maar toe vir die stem van die Here. Wanneer jy jonk is, hoor jy alles, maar luister na niks. Wanneer jy oud is, hoor jy niks, maar wil jy graag na alles luister. Op verskeie plekke herinner die Bybel ons dat dit nie van waarde is om ore te hê, maar hulle nie te gebruik nie. Dit is daarom nie vreemd nie dat die frase Wie ore het, moet luister agt keer in die Evangelies en agt keer in die Openbaring-boek na vore kom.
In die gelykenis van die saaier vind ons weer eens hierdie woorde. Hier word die wyse waarop die mens luister in verband gebring met die tipe grond waarin die saad beland. Jesus vertel van ’n boer wat die saad saai (simbolies van die woord), wat dan in verskillende tipes grond (simbolies van die mens se ore) te lande kom. Dieselfde saad word deur dieselfde saaier gesaai, maar die plekke waar dit val, bepaal wat met daardie saad gebeur.
Party van ons se ore is dan soos ’n harde pad wat glad nie ontvanklik is vir die woord nie. Ander weer soos ’n klipbank wat die woord hoor, maar nie toelaat dat dit ons binnedring nie. Party se ore luister so na die wêreld se geraas, dat die woord nie ’n kans staan om werklik na geluister te word nie. Gelukkig is daar dan enkele wat wel met hul ore luister na die woord en elke stukkie daarvan ter harte neem. Net jammer dat volgens die gelykenis ’n driekwart nie gereed is om na die stem van die Here te luister nie. As die Skepper praat, moet die skepping in afhanklikheid en in gehoorsaamheid kan luister.
Wat gebeur wanneer die Here se woord op jou ore val? Gee vir ’n slag jou onverdeelde en ononderbroke aandag om na sy stem te luister. Spits jou ore vir die stem van die Roepende, want daarin lê die krag vir jou geloof, die troos vir jou trane en die hoop vir jou twyfel.
Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos