Matteus 14: 13-21; Romeine 12: 1

Nadat Jesus hoor van die dood van Johannes die Doper, onttrek Hy Hom na ’n stil plek om alleen te wees. Toe die mense van die omliggende dorpe dit hoor, volg hulle Jesus na hierdie afgeleë plek. Wanneer Jesus hulle sien, kry Hy hulle jammer en genees Hy hul siekes en leer hulle. Teen die aand kom sy dissipels na Hom en sê dat dit laat raak en dat Hy die mense na die dorpe moet stuur om kos te gaan koop. Jesus het egter ander planne, Hy wil sy dissipels ’n belangrike les leer. Hy vra hulle wat het hulle hier om te eet. Dit is baie belangrik, omdat Matteus hier speel met die hier en die daar. Hier is waar Jesus en die dissipels is. Daar is waar die wêreld, die dorpe is. Daarom sê Jesus vir sy dissipels om die vyf brode en twee visse wat hulle het, hier na Hom te bring. Die res is geskiedenis, Hy voed vyf duisend mans, plus vroue en kinders.

Die les wat Jesus vir sy dissipels en ook vir ons wil leer, is dat ons as dissipels nie moet staatmaak op die “daar”, die wêreld daarbuite nie. Elkeen van ons moet die gawes en talente wat God ons gegee het “hier” na die binnekring bring en dit in God se hand vertrou, om tot voordeel van almal gebruik te word.

Toe ek eenmaal oor hierdie teks gepreek het, het van die mense gedink ek bedoel basaargoed. Maar nee, God wil hê dat ek en jy as sy dissipels onsself moet gee as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Bring dit wat jy kan gee in die vorm van tyd, talente, gawes, ja ook geld en ander materiële middele, en vertrou dit aan die hand van God toe om daarmee te maak soos Hy goeddink.

Here, help my om U hier te vertrou met wat ek kan gee. Amen.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link