Romeine 6: 12-14

Van kleins af is ons geprogrammeer om te dink: Ek weet dat ek gaan sondig, misluk… vandag te kort gaan skiet. Omdat dit waar is, moet ek gereed wees om vergifnis te vra. Ongelukkig beteken dit dat ons soms so op ons sondigheid fokus, dat ons nie as verloste mense, as mense wat hulle in hul sondigheid aan God oorgee, lewe nie.

Die gevolg is, ons leef óf in vrees vir die straf van God en soek na maniere om aan die straf te ontvlug, óf ons gryp na  verontskuldigings soos: Jy weet ek kan myself nie help nie. Ek is maar net ’n mens. In plaas daarvan om uit te styg bokant sulke vrees of verontskuldigings, lyk Christene dan te veel soos bang en onseker slawe. Dan moet ons vra: Watter verskil maak die genade van Christus dan? Boonop, waar is die oorvloedige lewe wat Christus ons aangebied het? Ons leef dan eerder in die vrees vir die Here se sweep as wat ons die oorvloed van die lewe ervaar.

Daardie dae is verby! Jy is nie meer daardie ou mens nie. Jy is vrygemaak deur Jesus Christus self. Christus bevry ons van die vrees vir straf én van die straf. Ons is vry om God te dien. God slaan ons nie tot gehoorsaamheid nie, Christus se sterwe bring duurgekoopte vryheid om aan God te behoort en God in vreugde en dankbaarheid te dien – omdat ons wil!

Ons weet diep binne ons dat Hy in ons woon, dat Hy ons gered het, maar die meeste mense weet nie hoe om by daardie vrees/mislukking/skande/belydenis-sindroom verby te kom nie. Hoe kan ons die gewoonte verbreek? Staan op en leef in die oorwinning van Jesus Christus. Dit beteken dat die sonde nie mag oor jou het nie en dat jy kan leef as iemand wat nie onder die beheer van die sonde staan nie. Moenie die heeltyd die sonde in jou agterkop hou nie – hou die verlossingswerk van Jesus op die voorgrond in jou lewe.

Dr Hein Delport, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link