Lukas 15: 4-6

In die gelykenis van die verlore skaap word die herder dikwels gesien as Jesus wat dié wat verlore geraak het, gaan soek, en dat wanneer Hy hulle vind, daar by God in die hemel blydskap is oor ’n sondaar wat bekeer het.

Wat kan die gelykenis beteken wanneer ons dit teen die agtergrond lees van die wêreld waarin Jesus dit vertel? Wat ons weet van daardie wêreld, is dat herders gewoonlik skape opgepas het wat nie aan hulle behoort het nie. Herders is gewoonlik in diens geneem deur ’n eienaar van ’n trop skape. Herders het baie min verdien, minder as die waarde van ’n skaap. Herders het gewoonlik skape opgepas in onbewoonde gebiede, en omdat hulle ’n slingervel en knuppel gedra het om skape teen byvoorbeeld wilde diere te beskerm, is hulle dikwels as geweldenaars beskou. Verder het herders nie ’n goeie reputasie gehad nie. Hulle is in dieselfde lig as tollenaars beskou, is nie as betroubare getuies gereken nie, is as onrein beskou omdat hulle in die veld moes leef.

Hierdie reputasie van herders was nie sonder gronde nie. Uit beskikbare bronne is dit duidelik dat herders soms in afgeleë plekke mense wat op reis was beroof het, en dikwels lammetjies wat gebore is nie aan die eienaar verklaar het nie. Die rede hiervoor was dat skape dikwels verlore geraak het. In so ’n geval is die waarde van die skaap van die herder se betaling afgetrek, wat beteken het dat herders soms niks verdien het vir ’n maand of twee se werk nie.

Wanneer Jesus dus ’n storie vertel waarin die koninkryk vergelyk word met ’n herder wat honderd skape oppas, het mense seker gefrons. Hoe is dit moontlik dat die koninkryk sigbaar is in die optrede van ’n oneerlike dief en rower? Dit is moontlik, vertel Jesus, omdat hierdie herder anders as gewone herders is. Wanneer een skaap wegraak, beroof hy byvoorbeeld nie ander om sy inkomste op te maak nie. Nee, hy soek die skaap tot hy hom vind, neem hom saam met die ander wanneer hy later huis toe gaan, ontvang sy loon, en versorg sy gesin met blydskap. Toewyding en eerlikheid is waardes van die koninkryk. In die koninkryk gryp ons nie, ons behoort te gee.

Prof Ernest van Eck, Emeritus/Kanada

Share via
Copy link
Powered by Social Snap