Josua 5: 10-15 (AFR2020)

Die Israeliete vier Paasfees, die uittog uit en bevryding van die slawerny in Egipte. Hulle eet vir die eerste keer van die opbrengs van die land Kanaän. Dit merk die aanbreek van ’n nuwe, volgende deel van God se reis met Israel. Dit merk ’n gewyde oomblik van verandering. Die manna bly weg, God gaan nou anders vir Israel sorg.

God se teenwoordigheid by hulle word bevestig deur die aanvoerder van die leër van die Here, wat vir Josua ontmoet. Die Here se belofte en opdrag aan Josua in Josua 1 word bevestig: Wees dapper en sterk… Moenie paniekbevange wees nie… want ek, die Here jou God, is by jou, oral waar jy gaan. Die gewydheid van die oomblik in Josua 5 word gemerk deur Josua wat beveel word om sy sandale uit te trek, hy staan op ’n geheiligde plek, is in ’n heilige ontmoeting. Josua is ingestel op die gewydheid van die ontmoeting, ruimte, oomblik. Hy antwoord: Wat wil U aan my, u dienaar, sê?

Dit het my laat wonder of ons, soos Josua, in ons eie lewe ingestel en ingestem is daarop om te besef wanneer ons ons in sulke gewyde plekke, ontmoetings en oomblikke bevind. Oomblikke en ontmoetings met God en God se mense waarin ons besef, hier moet ek versigtig wees, meer deernis hê, nederig wees, luister, want in hierdie oomblik is God in my, en in die mens saam met wie ek is, aan die werk.

Sulke gewyde-grond-ontmoetings wil ons versterk en bemoedig vir ons lewe van elke dag. En dit wil ons daaraan herinner dat die Here in ons lewe en die lewe van ander teenwoordig is. Ons kan nie maar net met ons modderskoene oor mekaar se harte loop nie. Ons het nodig om te hoor: Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilig. En dan by mekaar en by die Here te hoor wat die Here vir ons wil sê.

Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

Share via
Copy link
Powered by Social Snap