Genesis 32: 22-32

Ek kan regtig nie kla oor my skoonma nie. Sy is die vredeliewendste en sagste mens wat ek ken. Sy laat my altyd dink aan dié teks in die bergrede (Matt 5: 9): Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Sy hou nie daarvan as ek haar so noem nie, en vra ek Hoekom nie? sal sy antwoord: Want ek kan party dae so kwaad word vir Pa. En as ek vra Wat doen Ma dan, want ek het Ma nog nooit kwaad gesien nie? kom die antwoord: Dan gaan staan ek in die kombuis en ek vat ’n nat waslap en draai en draai hom todat hy droog is. Die beeld het my baie aan Jakob laat dink.

Jakob is nie die een wat so kwaad word nie, maar hy is in die teks die nat waslap wat gedraai en gedraai word deur sy omstandighede. En so asof dit nie genoeg is nie, kom God te midde van dit alles en baklei letterlik met Jakob, stoei met hom so asof hy nie genoeg probleme het om oor bekommerd te wees nie.

Jakob is tussen twee spanningspole in die teks. Aan die een kant was dit sy oom Laban, en aan die ander kant was dit sy broer, Esau. Hy is werklik by die punt waar hy niks meer kan doen nie. Hoe lyk hy? Soos ’n opgewende waslap – vol spanning. God breek in dié oomblik Jakob se laaste weerstand om hom ’n ander identiteit te gee. Jakob noem die plek Pniël – voor die aangesig van God. Wat gebeur hier? God breek die harde neut van Jakob se identiteit.

Baie kere kom ons spanning nie van God af nie. Tog, wanneer dit vir ons voel asof die spanning tussen die pole groter en groter word, en ons al hoe meer soos die uitgedroogde waslap begin voel, is dit nodig dat ons vir ’n oomblik luister wat God vir ons wil leer oor onsself. Dat Hy sterk word deur ons swakheid.

Dr Hein Delport, Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link