Genesis 6: 5-8; Hebreërs 11: 7

In die verhaal van Noag word dit nog eens duidelik dat geloof die grondslag is waarop ’n mens se hoop gebou word. So word dit ook ’n bewys van dit wat nog nie gesien kan word nie. Teen die tragiese agtergrond van die feit dat die mense so ontaard het, dat dit God selfs berou het dat Hy mense geskep het, kry Noag die opdrag om met die bou van ’n skip te begin. Mense het dit seker met minagting bekyk, en Noag moes maar teen alle bespotting in voortgaan met die opdrag. En weer eens beklemtoon die briefskrywer: Omdat Noag geglo het, het hy God gehoorsaam. Al moes hy volhard sonder om te sien of te verstaan.

Die uiteinde was ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant het sy gehoorsaamheid die sondige wêreld veroordeeld laat staan. Aan die ander kant begin ons iets sien wat later ʼn kernbegrip van die geloof sou wees, naamlik vryspraak wat deur die geloof kom.

So word mense wat vashou aan die beloftes erfgename van God se genade en vryspraak. Ten spyte van die hartseer oor die verdorwenheid van daardie geslag en van die wêreld, kies God tog om Noag en sy gesin te begenadig en weer opnuut met hulle ʼn verbond te sluit. God se wil bly so onbegryplik diep en sterk, gevul met genade. God wil vir ons ʼn God wees sodat ons vir God sy volk kan wees.

Geloof vra van ons om vas te hou aan wat nog nie gesien kan word nie, om God onvoorwaardelik te vertrou dat die hoop wat God in ons gewek het, in die geloof reeds in Christus vervul is, en dat dit ook sal lei tot die vervulling wat op ons wag. Ons moet egter ook verstaan dat dit gehoorsaamheid vra, selfs wanneer ons dalk nie die sin van gebeure kan verstaan nie.

Prof Piet Geyser, Emeritus/Meyerspark

af
af
Deel met behulp van
Copy link