Lukas 22: 28-30

Net soos my Vader ’n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ’n koninkryk aan julle… (vers 29).

In hierdie gedeelte handel Jesus se sentrale boodskap oor die koninkryk van God. Dit beteken eintlik die heerskappy, die regering of praktiese koning-wees van God in mense se lewens. Jesus roep ons as God se kinders op tot burgerskap van ’n alternatiewe ryk op aarde. Nie net sommer enige ryk nie, maar een wat die wêreld oorrompel met liefde en genade; met omgee, sorg, vergifnis en ondersteuning. ’n Groepering van mense wat stil-stil die vrede uitbou.

Die vraag wat ons onsself moet afvra in hierdie Lydenstyd, is of ons waarlik aktief deel is van die koninkryk van God. Elkeen wat inskakel by God se koninkryk, of sê hulle wil deel wees daarvan, word ’n agent vir die koninkryk. Wanneer ons agente word vir die koninkryk, moet ons soos suurdeeg wees wat deur die wêreld werk en mense oraloor verander. Ons kan dit slegs doen indien ons reeds verander is deur God se teenwoordigheid in ons lewens. Wanneer dit gebeur, kan ons nie meer net vir onsself en ons eie saligheid leef nie.

Jesus het definitief nie net vir Homself geleef nie. Inteendeel: Hy het alles gegee vir God se koninkryk. Vandag word ons gevra om dit ook te doen. Nie alleen vir die loon waarvan Jesus in die gedeelte praat wat op ons wag nie, maar juis uit dankbaarheid teenoor Hom wat alles vir ons gegee het.

Gaan begin vandag weer opnuut om alles te gee vir die koninkryk, soos wat Jesus gedoen het – nie vir die loon wat op ons wag nie, maar uit dankbaarheid teenoor God en sy Seun. Amen.

Gebed

Here, help my om vandag as agent van u ryk op te tree en alles vir u koninkryk te gee. Amen.

Ds Henk Labuschagne, Silverton

Share via
Copy link
Powered by Social Snap