1 Johannes 1: 9-10; Jakobus 5: 16

Vandag vier Christene regoor die wêreld Aswoensdag. Aswoensdag is ’n Christelike feesdag, inderdaad nie so bekend aan ons soos byvoorbeeld Goeie Vrydag nie, maar tog ’n Christelike feesdag wat vir ten minste die afgelope tien eeue deur Christene in sy huidige vorm gevier word. Aswoensdag lei die begin in van die Lydenstyd, die ses weke voor Goeie Vrydag waarin ons aan die lyding van Jesus dink.

Aswoensdag is aanvanklik gevier deur Christene wat geoordeel het dat hulle totaal in sonde vasgevang is. Om uitdrukking aan hul totale verlorenheid te gee, het hulle soos Job van ouds as oor hulself gegooi om in sak en as berou te toon (Job 42: 6). So van die tiende eeu af is Aswoensdag deur Christene regoor die wêreld begin vier deur met as ’n kruis op hul voorkoppe te teken, ’n kruis wat simbolies uitdrukking gee aan die sondaar se sterflikheid (Gen 3: 19) en sonde (Rom 3: 12-18). So gesien, gee Aswoensdag uitdrukking aan die sondaar se behoefte aan vergifnis van sonde en verlossing uit die dood.

Dit het daarom gou tradisie geword om op hierdie dag sonde voor God te bely, maar ook te bely teenoor ander as ons hulle dalk iewers te na gekom het. En watter mooi tradisie is dit nie? Ons kan tog nooit ophou om ons sonde voor God te bely nie? Hoe sinvol is dit nie om een dag in die jaar af te staan en opreg weer ons sonde teenoor God te bely! Net so sondig ons dikwels deur ander naby aan ons en hulle wat ons lewenspad kruis, te na te kom. Bely ons ooit ons verkeerdhede teenoor hulle? Dit wat ons aan ander doen, veral daardie dinge soos jaloesie, afguns en haat wat nie gesien kan word nie.

Kom ons bely op hierdie dag opreg ons sonde voor God en teenoor ander. Sondebelydenis is bevryding, maak ons nuut, en gee nuwe lewe aan ons en ander.

Prof Ernest van Eck, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link