Johannes 20: 1-18
Vandag se teksgedeelte speel af in ’n tuin. Waarom het Johannes gekies om spesifiek te noem dat Jesus in ’n tuin begrawe is? Die rede is dat Johannes vir Jesus wou uitbeeld as die nuwe Adam. Ons het almal deel aan die sonde van die eerste Adam. Die sonde lei tot die dood, maar Jesus se opstanding gee aan ons ’n nuwe lewe.
Die teksgedeelte vandag gee vir ons ’n voorbeeld van iemand wat so ’n nuwe lewe in Christus het. Dit is opvallend watter belangrike rol Maria Magdalena in die gedeelte speel. Magdalena was oorspronklik nie ’n naam nie, maar ’n titel: Maria afkomstig van Magdala. Magdala is ’n klein vissersgemeenskap in die noorde van Israel. Ons lees in Lukas 8 dat Jesus sewe duiwels uit haar gedryf het. Maria Magdalena het, nadat sy deur Jesus van die demone bevry is, saam met Jesus en die dissipels rondgereis en by Jesus geleer.
Maria Magdalena was ’n vrou wat verander en vernuwe is deur Jesus. Nie net deurdat Hy sewe demone uit haar gedryf het nie, maar deurdat sy by Jesus kon leer. Maria Magdalena het glad nie verwag dat Jesus uit die dood sou opstaan nie. Daarom dat sy by die sogenaamde tuinopsigter smeek dat hy haar vertel waar die liggaam is. Maria Magdalena het verwag dat Jesus die finale dood gesterf het.
Maar wanneer Maria se oë oopgaan en sy uiteindelik sien dat Jesus in werklikheid opgestaan het, verander haar lewe onherroeplik: Met Jesus se opstanding word haar lewe herskep. Maria Magdalena is nie meer ’n vrou wat vasgevang is in ’n goddelose en sinlose bestaan nie! So is dit ook vir elkeen van ons wat die krag van Christus se opstanding ervaar. Ons moet juig, want ons kan nou afstand doen van ons sondige verlede. Ons moet getuig uit dankbaarheid dat ons saam met Jesus kan opstaan tot ’n nuwe lewe.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico
