Titus 3: 3-7

Ek het die gewoonte om elke dag ’n paar kilometer met my hond te stap. Dit is iets wat ek nie sommer misloop nie. Dit is iets waarna ek uitsien aan die einde van elke dag. Op een bewolkte dag staan ek op en wonder of dit sal reën, en besluit om die kans te waag om met my hond te gaan stap. Ek het ’n paar kilometer ver gestap toe die hemele oopmaak en ek en my arme hond natreën. Daar was geen plek om weg te kruip vir die reën nie. Ek moes stap, deurdrenk van die water wat vrylik oor my vloei.

Ek besef vandag dat daardie stormreën my baie leer oor die verlossing wat Jesus Christus vir ons almal gee, oor die genadige vryspraak wat ons by Hom ontvang. Want reën kan nie gekeer word nie, die reën kan nie beperk word nie, die reën sal val waar dit wil en ons besluit nie daaroor nie. Ons kan voorspellings maak, opstaar na die hemele en wonder of dit sal reën, maar die sekerheid word net bepaal wanneer die eerste druppel jou tref.

Die goedheid van God ons Verlosser het aan ons verskyn soos daardie reënstorm wat op my neergedaal het. Die probleem is dat ons baie keer self wil besluit of dit goed genoeg sal wees. Ons sit baie keer met die onsekerheid of ons dit verdien, ingesluk deur die skuld van ons sonde en deurdrenk van hopeloosheid.

Hierdie feit is ’n pertinente probleem in vandag se wêreld, met gelowiges wat al hoe meer op soek is na verlossing en vergifnis, terwyl God dit vrylik gegee het. Dit is asof ons in die reën staan en wonder of dit ooit sal reën. Dit het tyd geword dat ons weer daaraan herinner word dat God die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort het deur Jesus Christus. Ons is deurdrenk van die Heilige Gees. Ons hoef nie te gaan soek na ’n lewe wat sin maak nie, maar moet eerder onsself bewus maak van die nuwe lewe wat deur die Heilige Gees vir ons gegee is.

Ds Juan de Beer, Parys

Share via
Copy link
Powered by Social Snap