Markus 5: 1-20 (AFR2020)

Dit is eie aan die mens om iewers tuis te wil hoort – gebonde en veilig te wees. Dink maar net aan Maslow se hiërargie van behoeftes: Na die basiese behoeftes (kos, water, skuiling) kom die behoefte aan sekuriteit (veilig wees), en daarna kom die sosiale behoeftes (onder andere om deel van ’n groep te wees). Dit is inherent deel aan die mens om tuis te wil hoort. Ons gaan deur die lewe met ’n sekere identiteit in hierdie “tuishoort” van die lewe waarna ons streef: Wie is ek? Wat is my waardes en norme?

In hierdie verhaal van die man wat besete is en deur die dorp uitgestoot word sodat hy tussen die grafte moes woon, staan een ding soos ’n paal bo water – Jesus vra die naamlose man: Wat is jou naam? Die uitgeworpene, die onreine, die identiteitloses, die “ander” word gevra: Wat is jou naam? So gemarginaliseer en naamloos is hierdie man egter dat hy nie eens antwoord nie: My naam is Legioen, want ons is baie! kom die antwoord. Om hierdie man se verlorenheid te aksentueer, word gebruikgemaak van ’n naam wat die onderdrukkende Romeinse Ryk van die tyd beskryf. ’n Legioen was die grootste eenheid soldate wat ’n mens in die Romeinse leër kon kry – tot soveel as 6 000 soldate. ’n Militêre term vir ’n naam. Oorlog. Onvrede woed in hierdie man. En dan nog so oorweldigend – ons is baie.

Dan lees ons verder dat Jesus hierdie man bevry en hom ’n nuwe identiteit in God gee. Goddank dat óns bevry is.

Mag ons raaksien dat God in Christus ook na ons kom en vra: Wat is jou naam? Dat Christus ook vir ons kom haal van ’n doodse bestaan – as’t ware tussen die grafte wegvat – en ons ons ware identiteit in Christus gee. In die tyd waarin ook ons leef waar mense hul identiteit, hul naam verloor – oorweldig deur die stampe en stote van die lewe. En baie daarvan – legio – ’n militêre term vir ’n naam. Oorlog. Onvrede, hartseer, verlange, pyn, gesondheidsprobleme – legio voorbeelde ook in ons lewe…

Mag ons beleef hoe God binne sy wil en binne sy tyd bevry. Mag ons die voorbeeld van Christus navolg wat die “ander”, die naamlose, die identiteitloses, nadertrek. Mag ons getroue getuies wees gewoon deur ons lewe. Soos ons lees: Gaan na jou huis, na jou mense, en vertel hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het (vers 19).

Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap