2 Korintiërs 1: 1-11

Jesus het ons gewaarsku dat ons uitdagings en soms moeilike tye in die lewe sal ervaar. Niemand is immuun teen pyn of geïsoleer van lyding nie, en niemand oorleef sonder probleme nie. God gebruik dikwels moeilike tye om jou nader aan Hom te trek. Die Psalmdigter sê: Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal (Ps 34: 19-20). Jou mees diepgaande en intieme verhouding met God sal waarskynlik in jou donkerste dae wees: wanneer jou hart gebreek is, as jy eensaam voel, as jou alternatiewe en opsies opgeraak het en wanneer die teleurstelling groot is – wanneer jy alleen na God roep om hulp.

Dit is tydens persoonlike ervaringe van benoudheid dat ons leer om ons eerlikste en diep innerlike gebede tot God te bid. Wanneer ons pyn het, het ons nie die lewenslus vir oppervlakkige gebede nie. God kon Josef uit die tronk en Daniël uit die leeukuil gehou het, Jeremia bewaar het dat hy nie in ’n put gegooi word nie, Paulus drie keer teen skipbreuk beskerm het, maar Hy het dit nie so gedoen nie. Hy het die probleme en moeilike tye in die mense se lewens toegelaat, en elkeen is nader aan God getrek. Probleme dwing ons om na God te roep en afhanklik van Hom in plaas van onsself te lewe. Paulus het getuig van die troos: Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red (2 Kor 1: 9-10). Jy sal nooit besef dat God al is wat jy nodig het, voordat God al is wat jy oor het nie.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link