Romeine 6: 1-14

Die Romeine se wêreld het bestaan uit eienaars en slawe. Sonde het die mens vasgehou en was eienaar oor die mens. Met Jesus Christus se kruisiging is die sonde se houvas verbreek en hoef die mens nie meer as slaaf vir die sonde te leef nie. Die mens het nou ’n nuwe lewe. Die mens leef nou vir God.

Om hierdie nuwe lewe te leef, vra dat die mens ingestel moet wees op God, gefokus moet wees op die nuwe lewe wat die mens van God ontvang. Hoe meer ek ingestel en gefokus op die nuwe lewe en God leef, hoe meer bewus word ek van die genade wat ek van God ontvang. Nie genade om bloot die verkeerde of sonde uit te kanselleer sonder enige verandering nie, maar genade wat ons volkome nuut maak.

Wanneer ons leef met die ingesteldheid van ’n nuwe lewe vir God, word ons aangeraak deur die Heilige Gees. Dan word ons aangeraak deur God se werking in ons lewe. Die werke van God laat ons nie onaangeraak nie. Die Heilige Gees werk in die wêreld, maar ons kan dit eers raaksien as ons waarlik leef vanuit die nuwe lewe, want anders hou ons vas aan die ou mens en die sonde en die negatiewe wat daarmee gepaardgaan. As ons waarlik die ingesteldheid het om te lewe vir God, dan sien ons die Gees se werke raak op verskeie maniere, en op onverwagse plekke. Wanneer ons die werking van die Gees raaksien, of hoor of ervaar, kan ons nie anders nie as om daaruit te leef. Die Heilige Gees help ons om getuies te wees in die wêreld. Om te getuig van daar waar lewe is, om te getuig van daar waar die Heilige Gees werk, en om te getuig van God se hand in ons lewe.

Die nuwe mens kan nie anders nie as om te getuig:

Kom, o Skeppergees,

Lewendmakend Gees.

Kom in al u volheid.

Kom in al u krag.

(Flam 58)

Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

Share via
Copy link
Powered by Social Snap