Lukas 4: 16-30, 5: 1-11

In hierdie twee verhale word die verwerping van die evangelie teenoor die aanvaarding van die evangelie gestel. In Lukas 4 lees Jesus in sy tuisdorp in die sinagoge uit die profeet Jesaja voor. Hy pas die woorde toe op sy eie roeping en werk op aarde. Aanvanklik is die mense verwonderd oor die evangelie. Hulle luister met instemming. Maar dan sê Jesus dat sy boodskap veral van toepassing is op nie-Jode en onbelangrike mense. Dít was egter nie wat die mense wou hoor nie. Hulle word woedend. Die weerstand en vyandigheid teen Jesus se boodskap lei daartoe dat hulle Hom uit die dorp jaag. Die evangelie word verwerp.

In Lukas 5 praat Jesus langs die See van Galilea met ’n skare mense. Hier word die evangelie egter aanvaar. Die skare was so gretig om te hoor wat Jesus verkondig, dat hulle mekaar verdring. Daarom klim Jesus in een van die vissermanne se bote. Petrus en die ander vissermanne was al besig om op te pak na ’n onsuksesvolle nag op die water. Maar dan gee Jesus vir Petrus ’n opdrag: Gaan uit na die diep water, en laat sak julle nette daar om vis te vang (Luk 5: 4, AFR2020). Sonder om te weet wat die resultate gaan wees, laat Petrus hom deur Jesus se woord lei. Dan gebeur die wonder – hulle vang soveel vis dat die nette skeur. Petrus se antwoord op hierdie wonder sien ons in sy radikale optrede. Hy los die boot op die strand en volg Jesus.

Net soos in Lukas 4, is almal verwonderd oor die wonder van die vangs. Tog gaan die verwondering hierdie keer nie oor in woede en weerstand nie. Hierdie keer gaan die verwondering oor in dissipelskap. Elkeen wat in Christus glo, is geroep tot dissipelskap. Dissipelskap gaan egter nie net oor kerkbesoek en godsdienstigheid nie. Dit is radikaal, iets wat insny in jou diepste opvattings en lewensgewoontes. Vir die sinagoge-gelowiges van Nasaret was dissipelskap ’n te moeilike opdrag. Hoe antwoord ons vandag op ons roeping as dissipels? Is dit vir ons ook ’n te moeilike opdrag?

Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

Share via
Copy link
Powered by Social Snap