Lukas 22: 31-34, 54-62

Jesus en die dissipels is saam aan tafel. Hy sê vir hulle dat een Hom gaan verraai. Hulle begin wonder wie dit kan wees, en onenigheid ontstaan onder hulle.

Petrus hoor dat die Satan daarop aangedring het om die dissipels soos koring te sif. Jesus verseker vir Petrus dat Hy vir hom gebid het. Petrus  verklaar dat hy bereid is om saam met Jesus gevangenskap te beleef en selfs dood te gaan. Maar Petrus moes leer dat hy tekortskiet en dat sy lojaliteit getoets sal word.

Wanneer Jesus gevange geneem word, volg Petrus op ’n veilige afstand al die pad na die huis van Kajafas. Dit was asof die afstand tussen Jesus en sy dissipels al hoe groter geword het. Hul afwesigheid is sigbaar. Net Petrus het hom aangesluit by die mense in die binnehof rondom die vuur. Dit is waar die verloëning gebeur. Drie keer is daar die ontkenning deur Petrus. Terwyl Petrus die derde keer ontken dat hy Jesus ken, het die haan gekraai. Jesus het omgedraai en vir Petrus gekyk. Slegs oogkontak, maar Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het.

Pynlik bewus van wat hy gedoen het, gaan Petrus na buite en huil, vol berou. Wat het hier gebeur? ’n Stuk geloofsverduistering vind plaas: Al Petrus se goeie voornemens is daarmee heen. Sy navolging was eintlik maar net op ’n veilige afstand. Petrus het nie besef hoe gevaarlik dit is om naby en tog so ver van Jesus te wees nie.

Hoe reageer ons op iemand wat ons verraai? Ons draai waarskynlik die rug op die persoon. Maar Jesus het dit nie gedoen nie. Hy het woord gehou en Petrus in sy amp herstel. Ook ons moet besef hoe maklik ons die rug draai en Jesus verraai.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link