Prediker 2: 18-26

Niemand van ons spring bekommernis vry nie, maar wat moet ons daarmee maak? Daar word ’n prent geskets dat bekommernis tot wanhoop kan lei, soos die Prediker se geykte woorde: Dit kom tot niks … dit is ’n gejaag na wind. Maar is dit die einde? Om in vertwyfeling te raak, tot so ’n mate dat jy soos die Prediker nie eens in die nag tot rus kan kom nie?

Ons lees egter: Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is (vers 24). Die Prediker kom hier tot nuwe insig: My inspanning en harde werk kom nie vanuit myself nie; God maak dit moontlik om te kan werk.

Dit is juis hier waar die verskil inkom: Met die besef dat God, as gawe, ’n mens in staat kan stel om te werk, is die vrug wat die werk oplewer ook ’n gawe van God. Skielik is die fokus op die afhanklikheid van God, anders as dat ek op my eie kragte staatmaak. As die fokus is dat die vrug van mý arbeid alleen aan myself behoort deur mý eie harde werk, dan gaan jy bekommernis daaroor hê – soos in die Prediker se geval slapelose nagte, want dit moet in eie krag ook in stand gehou word. Maar sodra ons fokus skuif en ons besef dat die vrug van ons arbeid as gawe vanuit die hand van God kom, dan maak jy nie staat op jou eie insigte en kragte nie, maar lewe jy prinsipieel in diepe afhanklikheid van en vertroue op God.

Die Prediker vra in vers 25: Wie kan eet, wie kan geniet as God dit nie moontlik maak nie? Die antwoord is eenvoudig: Niemand nie. Alleen uit God se hand kan ’n mens eet en drink en die goeie geniet. Uit God se hand kom wysheid, kennis en blydskap.

Te midde van al die bekommernisse, kom ons vertrou dat God sal voorsien soos Hy nog altyd voorsien het. Kom ons besef opnuut ons afhanklikheid van ’n lewe uit die oorvloedige hand van God.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Weltevreden

Share via
Copy link
Powered by Social Snap