Efesiërs 3: 14-21

Die leer van die Drie-eenheid word nie altyd verstaan nie. ’n Goeie beeld om te gebruik om dit te verduidelik, is deur te dink aan ’n man. By die huis is hierdie man ’n liefdevolle vader. By die werk is dieselfde man ’n pligsgetroue werknemer. En op die gholfbaan is dieselfde man weer ’n lojale vriend. Op die verskillende plekke het die man verskillende funksies.

Dit is waar dat die woord “Drie-eenheid” nie in die Bybel voorkom nie, maar as ons byvoorbeeld die gebed van Paulus in Efesiërs 3 lees, sien ons baie duidelik dat hy tot God Drie-enig bid.

Paulus begin sy gebed in die Naam van God die Skepper. Dit is die Vader se werk by uitstek. Paulus gaan dan verder en bid in vers 16 dat die Heilige Gees die gemeente sal versterk. Dit is juis die Gees wat ons lei en versterk in ons alledaagse lewens. Volgende bid Paulus in vers 18 dat ons die liefde van Christus sal ken. Dit is die liefde wat Jesus aan ons bewys het aan die kruis. Dit is Jesus se spesifieke werk binne die Drie-eenheid. Jesus is ons Verlosser.

Daar moet egter onmiddellik gesê word dat die verskillende werke nie eksklusief is tot spesifieke Persone nie. Die Bybel is daaroor duidelik dat al die Persone van die Drie-eenheid al die funksies verrig. Maar dit is nie nodig om vasgevang te raak in vrae oor hoe die verskillende Persone in mekaar pas nie. Ons moet fokus op wat die Persone in ons lewens doen.

Nadat Paulus gebid het tot elkeen van die Persone van die Drie-eenheid, sê hy in vers 19: …mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Hy stel dit inderwaarheid dat ons vervul moet word deur die Drie-enige God. Ons verstaan dalk nie altyd nie, maar ons sien God in die skepping, ons ervaar die liefde van Christus, en ons ken die troos van die Heilige Gees. Daarom kan ons net soos die apostel Paulus in vers 21 sê dat al die eer God toekom. Ons kan net in nederigheid voor die Drie-enige God kniel en Hom eer.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap