Jesaja 43: 1-7

Na lang jare in ballingskap, het die tyd vir die volk aangebreek om terug te keer na hul eie land. Maar daar is groot onsekerheid en hulle het nie die moed daarvoor nie. Dan kom die profeet Jesaja en spreek hulle aan met bemoedigende woorde van hoop. So wil hy hulle motiveer om die pad vol hoop en moed aan te pak. In hierdie pragtige stukkie poësie vind ons die merkwaardige woorde van God: Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Ons hou daarvan as iemand ons op ons naam noem. So asof dit jou laat voel: Iemand sien my raak, iemand ken my. My naam op die lippe van ’n geliefde laat my veilig, spesiaal en geliefd voel. Soveel te meer wanneer die Here die volk roep op hul naam en vir hulle sê hulle is Syne. Deur hulle op hul naam te noem, kan hierdie verlore en bang mense veilig, spesiaal en geliefd voel by God. Dit is immers God wat hulle geskep het, wat hulle gevorm het, en dit is Hy wat hulle nog van die begin af, van die skepping af, onderhou en beskerm. God het ’n noue en diep verbintenis met sy mense.

Die volk word daaraan herinner dat hierdie diep verbintenis al van Egipte af tot nou strek. Nou gaan hulle ook gevare en uitdagings langs die pad moet deurmaak, maar hulle sal dit nie alleen doen nie. God is by hulle.

Hierdie woorde wat oor duisende jare strek, is vandag nog geldig. Ons mag dalk bang wees vir wat die toekoms vir ons inhou, maar die Here sê vir ons om nie bang te wees nie. Dit maak nie saak wat die lewe na ons kant toe gooi nie, ons kan vashou aan wat ons in hierdie Skrifgedeelte hoor: Ons is deur God geskep, Hy het ons op ons naam geroep, en ons is Syne. Ons is kosbaar vir Hom, en Hy is by ons.

Ds Erika Ferreira, Bellville

af
af
Deel met behulp van
Copy link