Spreuke 1: 7, 3: 1-20, 8, 9: 1-12, 31: 10-31
Gister het dit duidelik geword dat menslike wysheid nie God se wysheid is nie. Paulus het gesê dat dit wat vir die wêreld lyk na dwaasheid, wel by God wysheid is, en dat solank hy swak is, is hy sterk in God.
Ek wil vandag stilstaan by wat wysheid is. Dit is ’n eeue-oue vraag, waarop daar nog geen klinkklare antwoord is nie. In die Bybel is daar ook boeke wat worstel met hierdie vraag. Dit is onder andere boeke soos Job, Spreuke, Prediker, sommige Psalms, en dan is daar nog Jesus se wysheidsuitsprake, waarvan die bergprediking die bekendste is.
In Spreuke 1-9 is daar gedeeltes waar wysheid as ’n vrou uitgebeeld word. Haar teenpool – dwaasheid – word ook daar uitgebeeld as ’n vreemde of dwase vrou, van wie ’n mens weg behoort te bly (Spr 7, 9: 13-18). In Spreuke 31: 10-31 word daar ook na wysheid verwys wanneer ’n knap vrou beskryf word. Dit is dalk juis omdat wysheid so abstrak en onverstaanbaar is, dat hierdie metafoor van ’n vrou ingespan is om wysheid te beskryf. In Spreuke 8 word Vrou Wysheid uitgebeeld as die eersteling van God se skepsels, en in Spreuke 3 word vertel dat Hy met haar geskep het.
In die boek Spreuke is daar een refrein wat herhaal – die oproep tot ontsag vir God. Ons vind die refrein vir vrees, ontsag of respek vir die Here in Spreuke 1: 7, 29, 2: 5, 3: 7, 8: 13, 9: 10, 31: 30. In die 2020-vertaling staan daar in Spreuke 1: 7 dat ontsag vir die Here die begin is van kennis, wysheid en vermaning. In die 1983-vertaling staan daar: Kennis begin met die dien van die Here. Die ontsag, vrees of respek vir God dui nie op bangwees nie, maar op aanbidding van die Here – om erkentlik te wees. Dit beteken om God eerste te stel, om in nederigheid my afhanklikheid te erken. Wysheid begin dus by God, daarom is daar ook altyd ’n stuk misterie verbonde aan wysheid en ’n onvermoë om wysheid te beskryf. Wysheid is om gemaklik te leef binne die misterie van God.
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria
