Lukas 15: 1-7
Vir die volgende paar dae gaan ons saam soek na vrede en hoop. Die bekende lied Kinders van die wind van Koos du Plessis handel oor ons wat kinders van die wind is, wat soekers is en nie vind nie. Ons deurkruis die lewe soos wind en soms vind ons nie waarna ons soek nie Wat soek ons? Hoekom soek ons? Wat is daar wat ons soos die wind rondwaai en ons rusteloos maak?
In Lukas 15 vertel Jesus die gelykenis van die verlore skaap. Hierdie boer het 100 skape, en een het afgedwaal van die trop en verdwaal. Hy het net weggeraak. Dit is nie vreemd dat ’n skaap soms van die trop afdwaal nie. Met die gelykenis vertel Jesus iets van ons. Ons raak soms weg. Ons verdwaal soms. Ons beland soms in die moeilikheid. Daar is so baie dinge wat ons mislei en verlei dat wegraak maklik gebeur. Soos verdwaalde skape is ons dikwels soekers wat nie ons weg terug vind nie. Ons raak dikwels verlore.
Alhoewel ons soekers is wat beskryf word as kinders van die wind wat nie vind nie, weet ons dat Christus ons kom soek totdat Hy ons kry. Christus is die Herder wat sy lewe afgelê het vir die skape en selfs vir die enkele een. Hy het vir die enkele verlore een gesterf en ook die dood oorwin. Daar is blydskap vir elkeen wat gesoek en gevind word.
Voel jy soos ’n afgedwaalde en verdwaalde skaap wat verlore geraak het? Wat doen die Goeie Herder? Hy gaan soek die verlore skaap totdat Hy hom kry. Die Herder doen moeite en soek totdat Hy die skaap kry. Hy hou nie op met soek nie. Hy soek oral totdat die skaap gevind word. Ons hoop en troos is in Christus wat ons kom soek. Hy is die Goeie Herder wat die lewe vir ons in oorvloed gee. Hy kom soek ons en vat ons terug. Hy dra ons na veiligheid. Daar is hoop en troos. want Christus kom soek ons. Al voel ons verdwaal en is ons soekend, ons troos is in Christus.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas