Johannes 1: 14

God is hier. Die rokende wierook op die vuurpan waaragter ons vir God moes wegkruip, is in die reissak van ’n drietal sterrewiggelaars ingepak. Hulle het die pad na Betlehem toe gevat om die koning wat gebore is, te loop soek. Dáár sou hierdie heidene vir God met hul eie oë sien, sonder die rookskerm tussen God en sy hoogste priesters. God is sigbaar in die Jerusalemtempel se Allerheiligste hoekie. Die gordyn wat Hom moes toehou, is middeldeur geskeur en die plek staan wawyd oop. Toe hulle probeer om Hom weer daar toe te maak, breek Hy die hele tempel tot op die grond af.  

God is toe mos die dood in. Selfs die dooies sien Hom, dien Hom. Jy kan jou verbeel die grafte is so goed as oop en die lewe kom terug in doodsbeendere in. God is hier, in jou. Op jou tong laat Hy vonke spat. Hy kyk jou daar van binne af deur, van grysstof tot kleintoontjie. Hy weet jy is stof. Hy kom kyk deur jou oë soos deur vensters. Hy sien jou liefdes, en Hy ken jou haat. Hy verstaan jou hoekoms en jou waaroms. Hy droom saam, en Hy doen saam.

God is só deel van jou dag dat jy van Hom vergeet. Daar’s kortsluitings, die gedurige krapgeluid van ’n konneksie wat vat-vat. Die dag as die stroom loop, storm daar by jou krag in wat jou skok dat jy dáár trek! God is altyd hier. God is nooit weg nie. Elke keer as God tot jou deurdring, skrik jy jou boeglam en staan jy verslae.

Jesus Christus is hoe God in jou lewe aankom: doodgewoon én buitengewoon. Jesus kom draai die kortsluiting  tussen ons en God weer vas. Dis vreemd, hoor! Ons moet weer by die geboortekanaal uit, en kom dan nuut aan in die nuwe wêreld van God se koninkryk. Ons daag anders in ons eie lewe op. Nou voel jou lewe getoor: vol getuienis van God. Jesus is hoe God tussen ons leef.  

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

 

af
af
Copy link