Haggai 1: 1 – 2: 9
Haggai is een van die 12 kleinprofete van die Ou Testament. Hy het opgetree in ’n tyd toe die volk op moedverloor se vlakte was. Hulle het pas teruggekeer uit ballingskap in Babilonië. Maar die ballinge wat teruggekeer het, het voor ’n aantal uitdagings te staan gekom. Die eens magtige en indrukwekkende stad Jerusalem en die Jerusalemtempel was in ruïnes. Die teruggekeerde ballinge sal van voor af moet bou aan hul stad, hul tempel, hul lewe en geloof. Hierdie enorme taak het soos ’n berg voor die ballinge gelê. Tot so ’n mate dat hulle totaal ontmoedig was. Hulle besluit om eerder eers hul eie huise te bou, voordat hulle die Here se huis, die tempel, herbou. Naderhand het die opvatting onder die mense ontstaan dat dit nie nou die tyd is om die tempel te herbou nie. Op hierdie punt roep die Here vir Haggai om met die volk te praat.
Haggai se doel was nie net om die volk moed in te praat nie, hy moes hulle ook wys op die ware betekenis van dit waarmee hulle besig is. Dit gaan nie bloot om die herbou van ’n gebou nie, dit gaan oor die heropbou van ’n geloofsgemeenskap. Dit gaan ook oor prioriteite – om die werk van die Here bo hul eie gemak en belange te stel.
Ons het vandag steeds die voorreg om deel te wees van die kerk van die Here. Maar, soos die volk in Haggai se tyd, val ons ook maar ten prooi aan allerlei versoekings. Ons moet ook daaraan herinner word dat ons gemak en eiebelang nie belangriker moet wees as ons verhouding met die Here en ons dienswerk in sy kerk nie. Daarom bly die opdrag aan die teruggekeerde ballinge ook ons opdrag – ons moet voortbou aan God se kerk. Ons kan hierdie grootse taak aanpak met moed en sekerheid in die wete dat die Here ons in sy hand hou en self sy kerk in stand hou. Daarom – skep moed, moenie bang wees nie. Hou aan met die werk van die Here, tot sy eer.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom