Psalm 134

Psalms 120-134 is prosessiepsalms. Dit was psalms wat deur pelgrims gesing is tydens Israel se verskillende godsdienstige feeste terwyl hulle in ’n feestelike prosessie beweeg het. Dit is gebruik tydens ’n verskeidenheid van liturgiese momente in die feesprogram, soos lofprysing, skuldbelydenis en so meer. Hierdie versameling kultiese liedere was daarom ’n diverse groep. Psalm 134 is die laaste een daarvan en was skynbaar ’n afsluitingsliturgie.

Letterlik roep die kort liturgie die pelgrims op om Jahwe te “seën”, terwyl hulle in ’n nagtelike prosessie deur die tempel beweeg. Om die Here te seën, beteken om Hom te prys. Daarop volg ’n oproep om aanbidding. Met hierdie finale liturgie het pelgrims God vir oulaas geprys en aanbid, en waarskynlik in verskillende stemme gesing, waarna hulle die seën van die priester ontvang het. Die volgende dag het hulle weer die tog huis toe begin. So kom die pelgrims se aanbidding op ’n hoogtepunt tot ’n einde!

Watter uitsonderlike ervaring moes dit nie wees nie: om God te seën en om deur God geseën te word! ’n Sirkel van seën, in ’n nagtelike prosessie teen die einde van die fees, en met die heimwee van vertrek tasbaar in die lug.

Ons woord kerk kom dalk via die Latyns vir sirkel, ’n kring gelowiges wat gevorm het na aanleiding van die Een wat op die Kopbeenplek met uitgestrekte arms gehang het, asof in ’n seën. Laat ons daarom nie nalaat om God daarvoor te “seën” nie! Om deel van sy kring van geseëndes te wees, is ’n uitsonderlike voorreg. Kom ons pak elke dag van die reis na God met dankbaarheid en vreugde aan en wees vir almal onderweg tot seën.

Gesang 311: 1-2

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link