Psalm 57
Hoeveel dae van die week word ons nie wakker nie met ’n swartgalligheid in ons gemoed sonder dat ons werklik daarvan bewus is? Ons begin so dikwels ons dag, vasgevang tussen gister se foute en môre se bekommernisse, dat die onmiddellike oomblik by ons verbygaan. Ons murmureer en kla reeds vroeg in die oggend oor alles wat verkeerd is of moontlik verkeerd kan gaan, sodat die dag nie anders kan nie as om op hierdie trant vol te hou. Op sulke dae is ons verblind vir ons seëninge en fokus ons slegs op die tekortkominge. Ons verruil innerlike kalmte vir ’n ongesonde onstuimigheid.
Die Psalmdigter lê vele nagte wakker omdat hy bang is vir die dag van môre weens die onsekerheid wat dit inhou. Hy is met tye moedeloos omdat hy vervolg word en angstig omdat hy nie al die antwoorde op die lewensvrae ken nie. Psalm 57 handel egter oor God se liefde en trou wat so eg is dat die mens nie anders kan nie as om sy of haar volle vertroue in die Here te plaas. Dit is ’n Psalm wat gebore is in die tyd toe Dawid vir Saul in die grot weggekruip het en self ook ten diepste angs ervaar het. Skielik kom die digter tot die besef dat solank hy hom gaan bekommer oor dinge waaroor hy nie beheer het nie, gaan elke môre somber en swartgallig begin.
Hy maak dan die keuse om elke oggend eerder by die Skepper te begin en met harp en lier eer aan Hom te bring. Dit verander die digter se denke en verskuif sy fokus na dit wat werklik saak maak. Skielik kyk hy anders na die wêreld rondom hom, omdat ’n God van liefde hom begroet en veilig laat voel. Twyfel, angs en vrees moes ruimte maak vir ’n loflied tot eer van die Here. Wanneer jy toelaat dat die Here die beginpunt van jou dag is, en Hy al die snare van jou bestaan met sy genade aanraak, word jou lewe ’n melodie van hoop.
Wat ook al die donker grot is waarin jy jouself op hierdie oomblik bevind – los die swartgalligheid en soek elke môre na die Here se teenwoordigheid. Sing jou lied en begroet die rooidag so!
Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos