Psalm 62: 1-13

Natuurlik is dit vir sommige mense moeiliker as vir ander om te vertrou, omdat hulle dikwels in hul verhoudings met mense seergekry het en glad nie hulself oopstel om te vertrou nie. Wanneer dit kom by vertroue op God, behoort ons egter nie te twyfel nie. Hierdie vertroue bring lewensvreugde, maar dit beteken dat ons ons aan God toevertrou en daarop sal reken dat Hy in beheer is. Ons kan ook soms dink om te vertrou is riskant, maar dit is meer riskant om, wanneer ons met God te doen kry, nie te vertrou nie.

Wanneer daar in ons verhouding met God vertroue is, kan die grootste uitdagings op ons afstuur en ons sal nie wankel nie, omdat ons op God vertrou om ons te dra en te help te midde van ’n krisis of moeilike situasie. Hierdie vertroue op God se goedheid en liefde is die basis van ons verhouding met God. Vertroue op God laat ons op ’n ander manier beplan, sodat ons verwagtinge nie gebou word op ons eie insig nie. Hierdie vertroue op God doen ons ook nie onverantwoordelik, roekeloos of waaghalsig nie, maar dit bevestig juis ons sekerheid dat ons lewe en toekoms deur die almagtige God bepaal word.

Vertroue op God is om in ons persoonlike lewe met geloofsekerheid op te tree en die lewenspad saam met God te stap. Hy staan in die sentrum van jou hart, verstand en kragte. Daarom besing die Psalmdigter sy vertroue op God wat bevestig word deur God se liefde en nabyheid. Ons kan ook soos die Psalmdigter in verse 6 tot 9 getuig: Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ’n toevlug.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Deel met behulp van
Copy link