Matteus 14: 22-33

Ek het eenmaal gelees van ’n eksperiment wat deur ’n groep gedragswetenskaplikes uitgevoer is. Hulle het ’n klomp rotte in ’n vistenk wat halfvol water was gegooi om te sien hoe lank die rotte sou oorleef voor hulle begin verdrink. Die gemiddelde tyd was 17 minute.

Hulle het die eksperiment toe herhaal met ander rotte uit dieselfde kolonie. Maar hierdie keer het hulle, sodra hulle sien dat ’n rot by die punt is om te verdrink, hom gered, drooggemaak, kos gegee en hom in die hok laat speel vir ’n dag of twee. Hulle het na twee dae hierdie selfde rotte weer in die tenk gegooi. Hierdie keer was die gemiddelde tyd voor die rotte op die punt kom waar hulle wou verdrink nie meer 17 minute nie, maar 36 uur!

Wat was die verskil tussen die eerste en die tweede groep rotte? Die tweede groep het hoop gehad.

Vir die wêreld beteken hoop byvoorbeeld om te hoop dat jy dalk die lotto sal wen. Vir ons as Christene is hoop ’n vaste sekerheid. Want ons hoop is Christus.

Die nag op die stormsee leer Petrus iets hiervan. Vol vertroue sê hy dat hy op die water na Jesus sal loop. Wanneer Jesus sê kom, dan loop Petrus. ’n Mens vergeet maklik dat hy eers geloop het voor hy gesink het. Wanneer hy egter sink, red Jesus hom. Hoekom sink hy? Hy vergeet dat Jesus hom roep en sien net die wind en die see.

Wanneer die lewe met ons gebeur, het ons gelukkig hoop. Ja, die lewe gebeur met ons, maar ons gee nie moed op nie, want ons hoop is gevestig in Jesus wat vir ons gesterf en opgestaan het. Dat Hy belowe het dat Hy by ons is, elke dag tot aan die einde van die wêreld. Dat Hy vandag vir ons wil sê dat Hy by jou as dissipel in hierdie wêreld is.

Here, dankie dat Jesus my hoop, my sekerheid is. Amen.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link