Johannes 10: 19-21

Dit is partymaal vir ons vreemd om te lees hoe die mense wat met Christus in aanraking gekom het, kon bevraagteken wie Hy werklik was. Kon hulle nie sien Hy is die Seun van God nie? Ervaar hulle nie God se teenwoordigheid in Hom nie? Hoe kon hulle so blind wees? Dit gebeur ’n paar keer in die Evangelies dat daar ’n debat is oor wie Hy is. Wat wel opvallend is, is hoe min kere Christus self intree om Homself te bewys. Hy laat dit oor aan sy volgelinge.

As sy volgelinge in die moderne tyd, hoe antwoord ons hierop? Is dit vir ons nodig om met mense daaroor te stry en aanvallend of konfronterend te wees? Waar gaan so ’n gesprek heen?

Geloof is ’n persoonlike verhouding wat vir elkeen van ons wat glo, begin by die persoonlike ervaring van die vreugde wat ons redding vir ons bring. Hierdie verhouding word uitgeleef in die wêreld om ons en verander die manier waarop ons optree om meer in lyn te wees met wat God van ons verwag.

Dit is hierdie wonder van die redding wat ons ontvang het en die vryheid om God se wil in ons eie lewens na te streef, wat die moderne wonderwerk is. Dit is hierdie vryheid wat ons oortuig wie Jesus werklik is. God genees ons van die blindheid en die wêreldse oogklappe en gee ons die geleentheid om bevry te word van hierdie wêreldse verstaan. Die doel van die wonders in die Johannes-evangelie was om die volk te oortuig wie Jesus werklik was. Dit was een van die maniere waarop Hy Homself aan die mense geopenbaar het. Dit was die manier waarop Hy vir mense gewys het wie Hy werklik is. Hoe help Hy ons vandag om oortuig te wees van sy Godheid?

Ds Dewald Kruger, beroepafwagtend

af
af
Deel met behulp van
Copy link