Matteus 13: 45-46

In die tyd van Jesus is handelaars nie in ’n positiewe lig beskou nie. Antieke skrywers beskryf handelaars as oneerlik, mense wie se raad jy nie moet volg nie, hulle is lui, en die meeste van hulle is oneerlik. Handelaars is mense wat net na wins jaag, hulle buit ander uit, is smokkelaars, skelm en geslepe. Ook die Bybel skets handelaars in ’n negatiewe lig. Volgens Jakobus 4: 13-16 is handelaars goddeloos, hulle stel net belang in die maak van geld, hulle praat groot, en is te seker van hulself. Ook in Openbaring 18: 3, 11, 15 en 23 word handelaars negatief uitgebeeld: Hulle het ryk geword deur die aarde uit te buit en met Rome te heul, hulle is betrokke by mensehandel, is vol bedrog, en mislei mense.

Hoekom hierdie negatiewe persepsie van handelaars? Mense wat geleef het in die tyd van Jesus was meestal kleinboere. Hulle het geboer om te kan eet en genoeg oor te hê om die volgende jaar weer te kan plant. Om te boer, meer as nodig te produseer, en dit vir ’n wins te verkoop, was nie deel van hul leefwêreld nie. Wat hulle nie gehad het nie, en dalk nodig gehad het, het hulle bekom deur middel van ruilhandel. Om te koop en te verkoop, te boer om ryk te word, om meer te produseer as wat jou gesin nodig gehad het, was onaanvaarbaar. Mense wat dit gedoen het, soos handelaars wat met goedere handel gedryf het om wins te maak en ryk te word, is daarom as veragtelik beskou, en is dikwels selfs diewe genoem.

Wanneer Jesus dus die koninkryk van God vergelyk met die optrede van ’n handelaar, sou dit vreemd op die oor geval het. Hierdie handelaar is egter nie ’n gewone handelaar nie. Wanneer hy ’n kosbare pêrel vind, verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel. Wat is die praktiese implikasie hiervan? Die handelaar hou dus op om ’n handelaar te wees. Hy koop en verkoop nie meer nie. Hy buit ander nie meer uit nie.

Om Jesus te volg, vra soms van ons om dit wat ons dink belangrik is, agter te laat.

Prof Ernest van Eck, Emeritus/Kanada

Share via
Copy link
Powered by Social Snap